Akademia et al. bied aan: Middel- en laevlakbestuur – besluitneming en beplanning

Akademia et al. se kortkursus, Middel- en laevlakbestuur: Besluitneming en beplanning, skop af op 4 Mei 2023. Hierdie kortkursus handel oor besluitneming en beplanning as bestuurstake op middel- en laevlakbestuur. Verskeie modelle, prosesse en visuele uitbeeldings ten opsigte van dié twee take word geëvalueer om sodoende besluitneming en beplanning pas te maak volgens verskeie scenario’s en dit dan visueel voor te lê vir praktiese uitvoering. Die kursus sal slegs in Afrikaans via aanlyn sessies aangebied word en ʼn sertifikaat van voltooiing word aan die kursusganger uitgereik.

Die kursus is ideaal vir verkoopsbestuurders; aankoopbestuurders; afdelings-/departementshoofde; bemarkingsbestuurders; operasionele bestuurders; toesighouers; koördineerders; spanleiers; voormanne; projekbestuurders; skofbestuurders; voorgraadse en nagraadse studente en individue wat die kuns van besluitneming en beplanning wil bemeester. Enige iemand met ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en ʼn passie vir bestuur kan vir die kursus registreer.

Die kursusinhoud wat tydens die aanlyn sessies bespreek sal word, handel oor agtergrond en die belangrikheid van besluitneming en beplanning; besluitnemingteorieë en -modelle; en scenarioanalise en pasmaking van besluitneming en beplanning.

Die aanlyn sessies word oor ses weke versprei:

  • Week 1 – Verwelkoming en inligtingsessie: 4 Mei
  • Week 2-4 – Interaktiewe inhoud teen selfregulerende pas: 6 Mei-27 Mei
  • Week 5 – Voltooi opdrag: 27 Mei-3 Junie
  • Week 6 – Refleksie- en terugvoersessie: 8 Junie

Volgens Elize-Marie Coetzer, kursusleier- en aanbieder van die kursus, gaan die kursus kursusgangers help om die sirkel te voltooi sodat beplanning en besluitneming omgeskakel word in uitvoering én effektiewe doelwitbereiking. “Ons gaan verskeie besluitneming- en beplanningmodelle en -prosesse evalueer. Ons gaan ook kyk hoe visuele uitbeelding ʼn rol speel in beplanning en besluitneming en dan gaan ons leer hoe om beplanning en besluitneming aan te pas volgens verskeie scenario’s.”

Coetzer is die Bestuurswetenskappe-departementshoof in Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy het ʼn BCom-graad in Korporatiewe Kommunikasie en Toerismebestuur (cum laude), asook ʼn honneurs- en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy is tans besig om haarself te verdiep in haar passie vir besluitneming, beplanning, prosesse en die visuele voorstelling daarvan.

Die koste van hierdie kursus beloop R5 200 wat al die aanlyn sessies insluit. Besoek gerus Akademia et al. se webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies sluit op 2 Mei 2023. Kontak elize-mari@akademia.ac.za teen Woensdag 26 April om 12:00 om in aanmerking te kom vir afslag voor registrasie.