Akademia et al. bied aan: Bou gesonde verhoudinge in die werkplek

Akademia et al. se splinternuwe kortkursus, Bou gesonde verhoudinge in die werkplek, begin op 10 April 2024. Hierdie kortkursus, wat oor twee dae strek, fokus op gesonde verhoudinge as ʼn vereiste vir ʼn gunstige werksomgewing. Aspekte soos verhoudingsbou en kommunikasie in die digitale era sal aandag geniet en kursusgangers só in staat stel om met selfvertroue en kredietwaardigheid hul impak in die werksomgewing te versterk.

Die kursus is ideaal vir enige individu wat gesonde verhoudinge en effektiewe kommunikasie nastreef, en sal via twee aanlyn sessies op 10 en 11 April, in Afrikaans aangebied word.

Die kursusinhoud sluit onder meer in:

  • Die groter prentjie van kommunikasie in 2024
  • Die verskillende elemente van kommunikasie en hoe dit by mekaar inskakel
  • Selfkennis deur begrip van jou denkprosesse
  • Insig om jou kredietwaardigheid en hoe om dit te versterk
  • Die impak van visuele, verbale en vokale boodskappe
  • Verhoudingsbou met kollegas en kliënte by wyse van die gesproke en geskrewe woord
  • Kommunikasie in die digitale era

Volgens dr. Jana Slippers, aanbieder van die kursus, word die digitale era waarin ons woon en werk gekenmerk deur ʼn oormaat inligting. Hierdie “inligtingsontploffing” het tot gevolg dat slegs effektiewe boodskappe ʼn indruk maak. In die lig hiervan sal kursusgangers touwys gemaak word oor hoe om effektief te kommunikeer ten einde hulle invloed te vergroot en gesonde verhoudinge in die werkplek te bou.

Slippers is ʼn deeltydse dosent in besigheidskommunikasie en navorsingsmetodologie aan die Universiteit van Pretoria (UP). Sy het meer as sestien jaar se ondervinding in die ontwikkeling en aanbieding van kortkursusse in professionale kommunikasievaardighede vir die privaatsektor. Sy is passievol oor die impak van kommunikasie op mense se verhoudings en veral hul loopbaangroei.

Die koste van hierdie kursus beloop R1 200. Besoek gerus Akademia et al. se webblad vir meer inligting. Registrasies sluit op Woensdag 3 April 2024.