Akademia et al. bied aan: Inligtingsbeveiliging

Akademia et al. se kortkursus, Inligtingsbeveiliging, skop af op 2 Februarie 2023. Hierdie kortkursus het ten doel om om voornemende besluitnemers in ondernemings toe te rus om goeie besluite te neem aangaande die beveiliging van hulle inligtingstelsels. Die kursus sal via ses aanlyn en fisiese kontakwerkwinkels aangebied word en ʼn sertifikaat van voltooiing word aan die kursusganger uitgereik.

Die kursus is ideaal vir studente met ʼn matrieksertifikaat, entrepreneurs, rolspelers in klein- en mediumondernemings of ondernemingsbestuurders in korporatiewe omgewings, wat graag ingeligte besluite wil neem aangaande die beveiliging van hulle inligtingstelsels en inligting. Enige persoon met ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en ʼn passie vir inligtingsbeveiliging kan vir die kursus registreer.

Die kursusinhoud wat tydens die werkswinkels bespreek sal word handel oor:

  • Die skep en onderhoud van veilige (digitale) gemeenskappe;
  • Die bevordering van veilige praktyke;
  • Inligtingsbeveiligheidsbeleid en Suid-Afrikaanse en internasionale wetgewing en regulasies;
  • Kubermisdaad en rekenaarfoute;
  • Die verskillende bedreigings tot inligting, inligtingstelsels en internetdienste;
  • Risiko-ontleding; en
  • Tegnieke vir die beskerming van inligtingstelsels.

Sinkrone nauurse bywoning van ten minste drie uit ses sessies, die afskop/oriëntering, en die afsluiting met eie voorleggings is verpligtend.

  • Werkswinkel 1: 2 Februarie
  • Werkswinkel 2: 11 Februarie
  • Werkswinkel 3: 25 Februarie
  • Werkswinkel 4: 11 Maart
  • Werkswinkel 5: 30 Maart
  • Werkswinkel 6: 8 April

Volgens Riana Crafford, kursusleier- en aanbieder van die Inligtingsbeveiliging-kortkursus, is rekenaarstelsels se grootste pluspunt dat dit die deel van inligting maklik maak, maar dit is ook die grootste nadeel daarvan. “Nie alle inligting behoort maklik versprei en gedeel te kan word nie, veral nie persoonlike inligting nie! Elke professionele persoon moet weet hoe om hierdie risiko te bestuur,” vertel Crafford.

Crafford is ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels en het ʼn BSc-graad in Wiskundige en Rekenaarwetenskappe, asook ʼn meestersgraad in hierdie dissipline, onderskeidelik aan die universiteite van Johannesburg en Pretoria verwerf. Crafford se spesiale belangstelling is die gebruik van inligtingtegnologie in onderwys en mikro-leergeleenthede. Sy het twintig jaar se ervaring as IT-praktisyn, lateraan spesialis in inligtingbeveiliging en risikobestuur by ʼn groot finansiële instelling.

Die koste van hierdie kursus beloop R9 000 wat alle werkswinkels insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies vir hierdie kursus sluit op 26 Januarie 2023.