Akademia et al. bied aan: Kernbeginsels van bemarking

Akademia et al. se kortkursus, Kernbeginsels van bemarking, skop af op 2 Mei 2023. Hierdie kortkursus het ten doel om verskeie aspekte van algemene bemarking te ondersoek om sodoende Suid-Afrikaanse rentmeesters in verskillende Suid-Afrikaanse gemeenskappe te vorm deur volhoubare bemarkingstrategieë binne ondernemings te bou. Die kursus sal via aanlyn sessies en een werkswinkel slegs in Afrikaans aangebied word en ʼn sertifikaat van voltooiing word aan die kursusganger uitgereik.

Die kursus is ideaal vir enigeen wat graag die kernbeginsels van bemarking onder die knie wil kry. Enige persoon met ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en ʼn passie vir bemarking kan dus vir die kursus registreer.

Die kursusinhoud wat tydens die werkswinkels bespreek sal word, handel oor:

  • Bemarkingsargitektuur, teikengehoor, verbruikersgedrag en besluitneming;
  • ’n Bemarkingstrategie ten opsigte van die produk, prys, kommunikasie en verspreiding; en
  • Die bestuur van bemarkingspogings deur bemarkingsplanne.

Die kursus is verspreid oor agt weke.

  • Inleidende week: 2-7 Mei
  • Week 1: 8-14 Mei (Onderwerp 1)
  • Week 2: 15-21 Mei (Onderwerp 2)
  • Week 3: 22 -28 Mei (Onderwerp 3)
  • Week 4: 29 Mei – 4 Junie (Onderwerp 4)
  • Week 5: 5 Junie-11 Junie (Onderwerp 5)
  • Week 6: 12 – 18 Junie (Bemarkingsplan voorbereiding)
  • Week 7: 19-23 Junie (Finale voorlegging en terugvoer)

Volgens Salomien Boshoff, kursusleier- en aanbieder van die Kernbeginsels van bemarking-kortkursus, verwag verbruikers persoonlike diens met intydse kommunikasie oor verskeie kommunikasiekanale. Verder moet produkaanbiedinge nie net innoverend en prakties wees nie, maar verbruikers verwag om die aanbieding via verskillende verspreidingskanale te ontvang. “Tydens die kursus oor kernbeginsels van bemarking sal kursusgangers bygestaan word om volhoubare bemarkingstrategieë vir hul eie besigheid, hulself of die organisasie waar hulle werk te ontwikkel,” vertel Boshoff.

Boshoff is ʼn dosent in Ondernemingsbestuur by Akademia en doseer tans die volgende modules: Bemarkingsbestuur en Bedryfskommunikasie. Sy het ʼn BCom-graad in Ondernemingsbestuur, asook ʼn honneursgraad in Bemarking aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Salomien se navorsingsfokus is indiensnemingsvaardighede en bemarking, en sy is tans besig met ʼn meestersverhandeling in Bemarking getiteld “Spanwerk as ʼn indiensnemingsvaardigheid vir bemarkinggegradueerdes”. Sy het meer as tien jaar se ondervinding in onderrig en leer, waartydens sy ʼn aantal ander toekennings – spesifiek vir haar assesseringspraktyke en samewerkingsooreenkomste met besighede – ontvang het.

Die koste van hierdie kursus beloop R9 000 wat alle sessies insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies vir hierdie kursus sluit op 25 April 2023.