Akademia et al. bied aan: Ekonomiese en fiskale beleid

Wonder jy hoe om sin te maak uit die Nasionale Begroting? Akademia et al. se kortkursus, Ekonomiese en fiskale beleid, skop af op 16 Oktober 2023. Hierdie kortkursus bied aan individue en voornemende sakelui ʼn oorsig oor ekonomiese beleid in Suid-Afrika. Die kursus bied die kursusganger die geleentheid om die ekonomiese omgewing te verken wat ʼn impak op sakebedrywighede het en elkeen se begroting beïnvloed. Die kursus sal slegs in Afrikaans via een fisiese kontaksessie en aanlyn sessies aangebied word en ʼn sertifikaat van voltooiing word aan die kursusganger uitgereik.

Die kursus is ideaal vir uitvoerende amptenare, senior bestuurders, funksionele hoofde en bestuurders; besigheidskonsultante, analiste, finansiële en strategiese adviseurs; kleinsake-entrepreneurs; en finansiële adviseurs wat kredietpunte moet verkry. Enige iemand met ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en ʼn passie vir ekonomie kan vir die kursus te registreer.

Die kursus sal strek vanaf 16-28 Oktober. Die inhoud van die kursus sal handel oor die ekonomiese beleid in Suid-Afrika, asook die fiskale beleid. Die fisiese kontaksessie sal by Endstraat 245, Clubview, Centurion plaasvind. Diegene wat nie die werkwinkel kan bywoon nie, kan dit op Teams bywoon.

Volgens dr. Sandra Adendorff, kursusleier- en aanbieder van die kursus, word elkeen in Suid-Afrika uiteindelik beïnvloed deur die beleid wat die fiskale owerheid oftewel die regering toepas. “Ons het byvoorbeeld onlangs die mediumtermynbegroting van die minister van finansies bestudeer met die regering se voorstelle van moontlike belastinginkomste en dan ook die manier hoe waarop die besteding in die land sal verander. Dit sal uiteindelik ook die begroting van elke individu en sakeonderneming beïnvloed.”

Adendorff is ʼn dosent in Ekonomie by Akademia, en het ʼn meesters- en doktorsgraad in hierdie dissipline aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy was voorheen werksaam by die Universiteit van Pretoria, asook die Reserwebank. Haar navorsingsfokus is ekonomie, finansiële markte en instrumente, asook makro-ekonomiese beleid. As navorser is sy medeskrywer van ʼn aantal handboeke, onder meer Economic Indicators en Understanding South African Financial Markets (Van Schaik) en Monetary Economics in South Africa (Oxford). Sy was ook betrokke by ʼn aantal navorsingsprojekte, onder meer gefokus op finansiële integrasie in Suider-Afrika, en is ʼn genoot by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Finansiële Markte.

Die tweede aanbieder van hierdie kursus is prof. Niek J Schoeman. Hy is ʼn emeritus professor in Ekonomie van die Universiteit van Pretoria en werksaam in die Departement Handel en Nywerheid. Hy is ʼn C2-navorser en het as konsultant en adviseur op die gebied van fiskale finansies aan ʼn aantal instellings dienste gelewer; byvoorbeeld in die bou van ʼn mikrosimulasiebelastingmodel. Die model word nou gebruik deur Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Nasionale Tesourie vir die simulasie van belastingbeleidsalternatiewe sowel as inkomstevoorspelling.

Die koste van hierdie kursus beloop R3 500 wat die fisiese kontaksessie en alle aanlyn sessies insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies sluit op 1 Februarie 2023.