Akademia et al. bied aan: Inleiding tot litigasietegnieke

Akademia et al. se kortkursus, Inleiding tot litigasietegnieke, skop af op 22 Julie 2023. Hierdie kortkursus het ten doel om studente en beginnerpraktisyns aan litigasietegnieke bloot te stel. Dit sal voornemende hofprokureurs en advokate in die teorie van litigasie inlei, maar ook op ʼn praktiese wyse aan kruisondervraging, getuienis in hoof, kruisondervraging, openingsbetoog en slotbetoog blootstel. Die kursus sal via twee kontakwerkwinkels slegs in Afrikaans aangebied word en ʼn sertifikaat van voltooiing word aan die kursusganger uitgereik.

Die kursus is ideaal vir regstudente vanaf hul tweede jaar van studies wat in die fyn kuns van litigasie belangstel, asook kandidaatprokureurs en pupiladvokate. Enige persoon met ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en ʼn passie vir litigasietegnieke kan egter vir die kursus registreer.

Die kursusinhoud wat tydens die werkswinkels bespreek sal word handel oor litigasietegnieke, sowel as litigasieteorie. Die werkswinkels word oor twee dae verdeel:

  • Werkswinkel 1: 22 Julie 
  • Werkswinkel 2: 29 Julie

Volgens dr. Willem Gravett, kursusleier- en aanbieder van die Inleiding tot litigasietegnieke-kortkursus, is hofwerk die skerp kant van die reg “Dit is waar die aksie is. Dit is niks anders as beskaafde oorlogvoering nie. Regspraktisyns wat in die howe verskyn is die gladiatore van die regsprofessie,” vertel Gravett.

Gravett is die departementshoof van Publiek- en Prosesreg aan Akademia. Hy behaal die grade BLC (met lof) en LLB (met lof) aan die Universiteit van Pretoria en sy LM-graad summa cum laude aan die Notre Dame Law School in die Verenigde State van Amerika. Hy is in Augustus 1997 as advokaat van die Hoë Hof van Suid-Afrika toegelaat en in November 1998 as lid van die New York State Bar. Hy voltooi sy formele advokaatopleiding aan die National Institute of Trial Advocacy (1998) in South Bend, Indiana, en aan die American Law Association se Family Law Trial Advocacy Institute aan die Universiteit van Houston (2004).

Die koste van hierdie kursus beloop R4 600 wat beide werkswinkels insluit. Besoek gerus Akademia et al. se webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus.