Akademia et al. bied aan: Onderrig van Afrikaans as addisionele taal

Akademia et al. se kortkursus, Onderrig van Afrikaans as addisionele taal, skop af op 27 Maart 2023. Hierdie kortkursus het ten doel om om voornemende en huidige Afrikaansonderwysers toe te rus met die kennis van die onderrig van Afrikaans as addisionele taal op skoolvlak. Die kursus sal slegs in Afrikaans via aanlyn sessies aangebied word en ʼn sertifikaat van voltooiing word aan die kursusganger uitgereik.

Die kursus is ideaal vir voornemende en huidige onderwysers wat gekwalifiseerd is om Afrikaans as vak aan te bied. Onderwysers wat nie gekwalifiseerd is om Afrikaans as vak aan te bied nie, maar hulself in ʼn posisie bevind waar hulle Afrikaans as vak op addisionele vlak moet onderrig, sal ook by hierdie kursus baat. Enige iemand met ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en ʼn passie vir Afrikaans of onderwys is welkom om vir die kursus te registreer.

Die kursus behels een oriënteringsweek asook vier weke se selfgerigte leer en twee ure per week aanlyn kontaksessies:

  • Oriënteringsweek – 27-31 Maart
  • Eenheid 1 – 3-7 April
  • Eenheid 2 – 10-14 April
  • Eenheid 3 – 17-21 April
  • Eenheid 4 – 24-28 April

Die kursusinhoud handel oor:

  • Destigmatisering en regverdiging van Afrikaans as addisionele taal op skoolvlak;
  • Die skoolkurrikulum (KABV) en addisioneletaalonderrigmetodiek;
  • Taalleer op skoolvlak; en
  • Letterkunde op skoolvlak.

Volgens dr. Annelise de Vries, kursusleier en -aanbieder van hierdie kursus, is gehalte onderrig in Afrikaans as addisionele taal vir niemoedertaalsprekers van Afrikaans noodsaaklik vir die uitbou en omarming van Afrikaans met al sy variasies. “Afrikaans as addisionele taal word landwyd op skoolvlak aangebied, maar daar is bevind dat onderwysers nie genoegsame ondersteuning kry om dié vak aan te bied nie. Daarom bied Akademia et al. hierdie kursus aan.”

Die Onderrig van Afrikaans as addisionele taal-kursus het vier kundige kursusaanbieders. Die eerste is De Vries wat ʼn doktorsgraad in Toegepaste Linguistiek, ʼn meesters- en honneursgraad in Afrikaans en Nederlands, ʼn BA-graad in Kommunikasiestudies en ʼn BA-graad in Pastorale Begeleiding en Psigologie agter haar naam het.

Carmen du Plessis is tans verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Opvoedkunde en in haar hoedanigheid as lektor bied sy verskeie Afrikaanstaalkundemodules vir voor- en nagraadse onderwysstudente aan.

Sanet du Plessis beskik oor ʼn BA-graad met Afrikaans en Politieke Studies as studierigtings. Verder beskik sy oor ʼn honneurs- en meestersgraad in Afrikaans aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg) verwerf. Du Plessis se navorsingsfokus is taalvariasie met spesifieke verwysing na Gariep-Afrikaans.

Karien Brits is ʼn voltydse taalpraktisyn van Akademia en ʼn deeltydse dosent in Sepedi as Gesprekstaal. Sy het ʼn BBk-graad (Bedryfskommunikasie) asook ʼn honneurs- en meestersgraad (cum laude) in Setswana aan die Noordwes-Universiteit verwerf.

Die koste van hierdie kursus beloop R6 550 wat al die aanlyn sessies insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies sluit op 20 Maart 2023.