Akademia et al. bied aan: Visuele kommunikasie en PowerPoints wat werk

Daar is ʼn kuns daaraan verbonde om effektiewe PowerPoint-aanbiedings saam te stel.  In die lig hiervan bied Akademia et al. ʼn splinternuwe kursus aan om nie net deelnemers se visuele kommunikasievaardighede te verbeter nie, maar ook om effektiewe PowerPoint-aanbiedings te ontwikkel. Diesulke aanbiedings sal nie net jou boodskap versterk nie, maar ook help om jou gehoor se aandag te behou.

Hierdie kursus, wat in Afrikaans aangebied word, begin op 6 Junie 2024 en neem die formaat van twee aanlyn sessies aan. Die kursus is pasgemaak vir individue wat hul aanbiedingsvaardighede wil verbeter. Kursusgangers moet gemaklik daarmee wees om in PowerPoint te werk en moet oor ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) beskik.

Die volgende aspekte word as deel van die kursusinhoud gedek:

  • PowerPoint-ontwerpbeginsels wat jou boodskap versterk.
  • PowerPoint-ontwerpbeginsels wat die gehoor se aandag trek en behou.
  • PowerPoint-ontwerpbeginsels wat met die aanbieder gesinchroniseer is.
  • Hoe om PowerPoint-aanbiedings te evalueer en te verbeter.

Dr. Jana Slippers, aanbieder van die kursus, meen die goue reël om te onthou as dit kom by PowerPoint-aanbiedings is dat minder beslis meer is. Volgens Slippers speel visuele kommunikasievaardighede ʼn krities belangrike rol as dit kom by die effektiewe oordrag van ʼn boodskap. Sy verduidelik dat die mensdom se aandagspan oor die afgelope twee dekades beslis korter geword het, hoofsaaklik vanweë die gebruik van sosiale media en die inligtingsontploffing wat daarmee gepaard gaan. Om dié rede is ʼn goeie PowerPoint-aanbieding (net soos toepaslike liggaamsgebare) waardevol om ʼn gehoor se aandag te kry, te behou, en om te help dat boodskappe langer onthou word.

Slippers is ʼn deeltydse dosent in besigheidskommunikasie en navorsingsmetodologie aan die Universiteit van Pretoria (UP). Sy beskik oor meer as sestien jaar se ondervinding in die ontwikkeling en aanbieding van kortkursusse in professionele kommunikasievaardighede vir die privaatsektor. Slippers is passievol oor die impak van kommunikasie op mense se verhoudings en veral op hul loopbaangroei.

Die koste van hierdie kortkursus beloop R860. Besoek gerus Akademia et al. se webblad vir meer inligting. Registrasies sluit op Vrydag 31 Mei.