Akademia et al. bied aan: Inleiding tot besigheidsetiek

Akademia Et al. se kortkursus, Inleiding tot besigheidsetiek, is beskikbaar as kursus en op versoek van besighede en groepe. Hierdie kortkursus het ten doel om kursusgangers met ʼn belangstelling in die ekonomie wat deel van die besigheidswêreld is in te lei tot die basiese aspekte van besigheidsetiek. Die kursusganger sal die geleentheid kry om teoretiese konsepte konkreet toe te pas en dus om etiese vaardighede in die besigheidswêreld te ontwikkel. Die kursus sal oor twee dae (via vier kontaksessies)  slegs in Afrikaans aangebied word en ʼn sertifikaat van voltooiing word aan die suksesvolle kursusganger uitgereik.

Die kursus is ideaal vir enige universiteitstudente vanaf NKR 6-vlak (en werkende deelnemers met matriek) wat daarin belangstel om ʼn basiese inleiding in die besigheidsetiek te kry. Enige persoon met ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en ʼn passie vir besigheidsetiek kan egter vir die kursus registreer.

Die kursusinhoud wat tydens die werkwinkels bespreek sal word handel oor wat besigheidsetiek is en die bepaalde temas in besigheidsetiek. Die kursus bestaan uit vyf leereenhede en word oor  twee dae  aangebied: 

Eenheid 1: Relasies 

Eenheid 2: Instellings 

Eenheid 3: Natuur 

Eenheid 4: Liggaam

Eenheid 5: Sinvolle lewe

Prof. Pieter Duvenage, kursusleier en -aanbieder van hierdie kursus vertel dat die kursus beslis besonders is. “Ons gaan na klassieke en eietydse etiese teorieë kyk en hoe dit in die hedendaagse besigheid  toegepas word. As jy in hierdie vraagstuk belangstel is hierdie kursus vir jou.”

Die Inleiding tot besigheidsetiek het twee kundige kursusaanbieders.

Die eerste is Duvenage, ʼn emeritus professor in die filosofie (UV), ook buitengewone professor in Filosofie aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom) en ʼn Professorale Genoot in die Collingwood Sentrum vir Britse Idealisme aan die Universiteit Cardiff. Hy het reeds agt boeke geskryf en geredigeer en bykans 50 geakkrediteerde artikels gepubliseer.

Die tweede aanbieder is dr. Hercules Boshoff, ʼn dosent in Filosofie by Akademia. Hy het sy PhD getiteld Ekonomie en Subjektiwiteit (2019) by die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Hy het reeds verskeie geakkrediteerde artikels gepubliseer en werk aan ʼn eerste boek.

Die koste van hierdie kursus beloop R4400  per persoon wat al die kontakwerkswinkels insluit. Besoek gerus Akademia et al. se webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus.