Akademia et al. bied aan: Kuns van verkope – SPIN-vrae

Akademia et al. se vierde kortkursus, Kuns van verkope: SPIN-vrae, skop af op 23 Mei 2023. Hierdie kortkursus handel oor ʼn raamwerk (SPIN) om effektiewe vrae te vra tydens die verkopegesprek tussen die verkoper en koper om sodoende seker te maak dat die transaksie plaasvind of doelwitte bereik word. Die kursus sal slegs in Afrikaans via een werkswinkel aangebied word en ʼn sertifikaat van voltooiing word aan die kursusganger uitgereik.

Die kursus is ideaal vir enige verkoopspersoon, asook persone wat idees, produkte of dienste aan ʼn bepaalde mark moet verkoop. Enige iemand met ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en ʼn passie vir verkope kan egter vir die kursus te registreer.

Die werkswinkel vir hierdie kursus vind plaas op 23 Mei en die inhoud sal handel oor:

  • Die begronding van verkope en die SPIN-raamwerk;
  • Ontleding van teikengehoor;
  • SPIN-vrae en die waarde daarvan; en
  • SPIN-vrae in eie konteks.

Volgens Salomien Boshoff, kursusleier- en aanbieder van die Kuns van verkope-kursus, gaan kursusgangers prakties leer hoe om een van die betroubaarste navorsinggesteunde raamwerke te gebruik, naamlik SPIN®. “Dit verwys na vrae wat tydens ʼn verkoopgesprek gevra moet word, naamlik vrae oor die koper se situasie, moontlike probleme wat die koper mag ervaar, vrae oor die implikasie van daardie probleem in die koper se lewe en wat die koper nodig het om huidige behoeftes te bevredig,” vertel Boshoff.

Boshoff is ʼn dosent vir verskeie modules in Bestuurswetenskappe by Akademia en die Sakeskool van die Universiteit van die Vrystaat. Sy beskik oor ʼn meestersgraad in Ondernemingsbestuur met spesialisasie in Bemarking. Haar passie vir onderrig en leer rig haar navorsing om verskillende wyses waarop studente se leer bevorder kan word, te verstaan.

Die koste van hierdie kursus beloop R2 000 wat die werkswinkel insluit. Besoek gerus Akademia et al. se webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus.