Akademia et al. bied aan: Die innoverende onderneming

Akademia et al. se splinternuwe kortkursus, Die innoverende onderneming, begin op 3 Julie 2024. Hierdie kortkursus fokus nie net op innovasie op individuele vlak nie, maar ook op hoe innovasieroetines op alle terreine van ʼn onderneming effektief gevestig kan word.

Die kursus is ideaal vir bestaande en opkomende bestuurders wat innovasie in hul spanne, departemente en organisasies wil aanwakker en bevorder. Entrepreneurs en eienaars van kleinsakeondernemings asook werkende individue wat hul eie innoverendheid in hul werksomgewing wil bevorder sal ook by die kursus baat vind.

Hierdie kortkursus, wat in Afrikaans aangebied word, neem die formaat van kontakwerkswinkels aan en belangstellendes moet oor ʼn Nasionale Senior Sertifikaat (NNS) beskik om vir die kursus te kan registreer. Die kursusinhoud dek die volgende onderwerpe:

  • Hoe kreatiwiteit aangeleer en ontwikkel kan word
  • Die omskakeling van ʼn kreatiewe idee na ʼn produk
  • Die omskakeling van ʼn produk na ʼn sakemodel
  • Innovasie as ʼn strategiese ondernemingsfunksie
  • Projek: Die skep van ʼn nuwe, innoverende produk, diens of proses

Volgens Johann Smith, die kursusleier, word die basis van die woord innovasie afgelei van die woord “nova” wat nuut beteken. “Innovasie word om dié rede dikwels beskryf ten opsigte van die nuutheid of varsheid van ʼn nuwe idee, produk of diens,” verduidelik Smith. Hy voeg by dat daar in die bestuurswetenskappe egter ʼn kommersiële element tot innovasie gevoeg word.

“Dit is ʼn mite dat innovasie iets is wat net in ʼn eksentrieke navorser se motorhuis gebeur, soos dit dikwels deur die media voorgehou word. Die meeste innovasie gebeur as ʼn strategiese funksie met goed beplande en georganiseerde prosesse verweef word,” sê Smith. Hy meen dat innoverende ondernemings nie net oor innoverende bestuurslui beskik nie, maar ook oor personeel wat inkoop tot geïntegreerde innovasiepraktyke. Laasgenoemde vereis die daarstelling van ʼn omgewing waarbinne elke werknemer glo dat hulle in staat is om innoverend te wees.

Smith, ʼn dosent in Bestuurswetenskappe by Akademia, het ʼn BCom-graad en honneursgraad in Informatika, asook ʼn meestersgraad in Kommunikasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Sy huidige navorsingsfokus is innovasiebestuur, asook die bestuur van Wiskunde-angs en Wiskunde-veerkragtigheid in hoëronderwysinstellings. Smith praktiseer voorts as ʼn bestuurskonsultant terwyl hy ook reeds tientalle jare in die onderwyssektor betrokke is.

Die koste van hierdie kursus beloop R7 170 wat alle sessies insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies vir hierdie kursus sluit op 26 Junie.