Digitale media en kunsmatige intelligensie in die klaskamer

Die doel van hierdie kursus is om reeds ervare onderwysers, onderwysstudente en beginnerdosente toe te rus met die vaardighede en strategieë wat benodig word om digitale media en kunsmatige intelligensie (KI) doeltreffend in hul lesse te integreer. Hierdie opleiding fokus op die bevordering van ʼn praktykgerigte benadering, waar onderwysers, onderwysstudente en dosente die geleentheid kry om aktief te oefen en implementeer wat hulle geleer het. Uiteindelik streef die kursus daarna om ʼn omgewing te skep waarin onderwysers se pedagogiese metodes versterk word deur die doelmatige gebruik van innoverende tegnologieë.

Begindatum

September 28, 2024

Formaat

Aanlyn sessies

Koste

R7500

Toelatingsvereiste

’n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)

Onderrigtaal

Slegs Afrikaans

KURSUSINHOUD

  • Inleiding tot digitale geletterdheid
  • Die ontdekkingsreis van kunsmatige intelligensie vir effektiewe leer
  • Doeltreffende integrasie van digitale media vir gehalte onderrig
  • Herbedink assessering op ʼn kreatiewe manier deur digitale media
  • Bevordering van samewerkende leer en kommunikasie deur digitale media

IDEALE KURSUSGANGER

Die kursus is ideaal vir voornemende onderwysers, ervare onderwysers en dosente. Hierdie kursus poog om die ideale kursusganger se kennis en vaardighede oor digitale geletterdheid en die effektiewe gebruik daarvan binne die opvoedkundige konteks te bevorder. Dus behoort die kursusganger daarna te streef om akademies uitnemend, ʼn kreatiewe denker, en pioniersgees te hê.

DATUMS

Die kursus sal oor ses weke strek vanaf 28 September tot 2 November 2024

Datum: 28 September 2024 | Week 1 – Oriënteringsweek

Datum: 5 Oktober 2024 | Week 2 – Leereenheid 1: Inleiding tot digitale geletterdheid

Datum: 12 Oktober 2024 | Week 3 – Leereenheid 2: Die ontdekkingsreis van kunsmatige intelligensie vir effektiewe leer

Datum: 19 Oktober 2024 | Week 4 – Leereenheid 3: Doeltreffende integrasie van digitale media in lesse vir gehalte onderrig

Datum: 26 Oktober 2024 | Week 5 – Leereenheid 4: Herbedink assessering op ʼn kreatiewe manier deur digitale media

Datum: 2 November 2024 | Week 6 – Leereenheid 5: Bevordering van samewerkende leer en kommunikasie deur digitale media

REGISTRASIES SLUIT

9 September 2024

KURSUSAANBIEDERS

Mev. Monique Alberts

Monique Alberts is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BEd-graad in Verdere Onderwys en Opleiding asook ʼn honneursgraad in Engels Letterkunde en in Opvoedkunde met ʼn fokus op leerderondersteuning (cum laude) aan die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Suid-Afrika onderskeidelik verwerf. Sy het haar meestersgraad in Opvoedkunde verwerf aan die Universiteit van Pretoria in 2024. Alberts se navorsingsfokus is Engels as taal van onderrig en leer. Sy het agt jaar as onderwyseres gepraktiseer.

 

Dr. Chris-Mari Le Hanie

Chris-Mari Le Hanie is ʼn senior dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn PhD in Opvoedkunde met Kurrikulumstudies asook ʼn honneurs- en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Le Hanie se navorsingsfokus is kurrikulumstudies, assessering, navorsing en besigheidsonderwys. In haar loopbaan het sy verskeie posisies beklee: kurrikulumkoördineerder, kurrikulumontwikkelaar, hoof van institusionele kwaliteit en akademiese steun, onderwyser en dosent. Le Hanie is die skrywer van ʼn aantal joernaalartikels, boekhoofstukke en boeke in die velde van opvoedkunde.

 

Mnr. DJ Cloete

DJ Cloete is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BA-graad in Tale asook ʼn honneurs- en meestersgraad in Tale aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Hy het ook sy NGOS-kwalifikasie by Akademia verwerf. Cloete het ʼn wye belangstelling in die werkinge van taal en het al meegewerk aan internasionale projekte wat insluit Skryfhulp Afrikaans. Voor die aanvang van sy posisie was hy was ʼn lektor in Taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en ook nou betrokke by projekte wat deur ICELDA en SADiLaR geloods is. Hierdie projekte se doel is om hulpmiddels daar te stel wat studente kan ondersteun tydens hulle akademiese loopbaan en om meertaligheid binne die hoëronderwyskonteks te bevorder. Hy was ook projekbestuurder van ʼn nuwe boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans, getitel Toegepaste Taalkunde in Afrikaans (2022). Cloete se navorsingbelangstellings is Variasietaalkunde en Rekenaargesteunde taalonderrig.

KURSUSLEIER

Dr. Chris-Mari Le Hanie | Chris-MariL@akademia.ac.za