Onderrig van Afrikaans as addisionele taal

Die doel van hierdie kursus is om voornemende en huidige Afrikaansonderwysers toe te rus met die kennis van die onderrig van Afrikaans as addisionele taal op skoolvlak. Die kursus is by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SACE) as diensverskaffer geregistreer en kursusgangers kan CPTD-punte by SACE verdien as hulle hierdie kursus suksesvol voltooi.

Begindatum

Junie 26, 2024

Formaat

Aanlyn sessies

Koste

R6550

Toelatingsvereiste

’n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)

Onderrigtaal

Slegs Afrikaans

Kursusinhoud

• Destigmatisering en regverdiging van Afrikaans as addisionele taal op skoolvlak
• Die skoolkurrikulum (KABV) en addisioneletaalonderrigmetodiek
• Taalleer op skoolvlak
• Letterkunde op skoolvlak

Ideale Kursusganger

Die kursus is ideaal vir voornemende en huidige onderwysers wat gekwalifiseerd is om Afrikaans as vak aan te bied. Onderwysers wat nie gekwalifiseerd is om Afrikaans as vak aan te bied nie, maar hulself in ʼn posisie bevind waar hulle Afrikaans as vak op addisionele vlak moet onderrig, sal ook geweldig by hierdie kursus baat.

Datums

Een oriënteringsweek en vier weke se selfgerigte leer en twee ure per week aanlyn kontaksessies.
• Oriënteringsweek – 26 Junie
• Eenheid 1 – 3 Julie
• Eenheid 2 – 10 Julie
• Eenheid 3 – 17 Julie
• Eenheid 4 – 18 Julie

Registrasies sluit

24 Junie 2024

KURSUSAANBIEDERS

Dr. Annelise de Vries

Annelise de Vries is ʼn dosent in Afrikaans en het ʼn doktorsgraad in Toegepaste Linguistiek, ʼn meesters- en honneursgraad in Afrikaans en Nederlands, ʼn BA-graad in Kommunikasiestudies en ʼn BA-graad in Pastorale Begeleiding en Psigologie. Sy het haar doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg verwerf en haar meesters-, honneurs- en BA-grade aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. De Vries se navorsingsfokus is toegepaste linguistiek waaronder taalbeplanning en forensiese linguistiek val. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn hoofstuk in die boek, Language and the law in South Africa and beyond – Language and crime: Issues in forensic linguistics.

Sy het vir drie jaar in die onderwysomgewing gewerk en daarna vier jaar grotendeels as ʼn navorser. Sy dien ook tans as voorsitter van die direksie van die Afrikaanse Taalraad. Sy doseer die volgende modules by Akademia: Afrikaans Huistaalonderwys en Afrikaans as Taal van Onderrig en Leer.

Carmen du Plessis

Carmen du Plessis is tans verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Opvoedkunde en in haar hoedanigheid as lektor bied sy verskeie Afrikaanstaalkundemodules vir voor- en nagraadse onderwysstudente aan. Du Plessis beskou haarself as ʼn bohémien met ʼn kreatiewe persoonlikheid en ’n eklektiese, vrydenkende aanslag tot die lewe. Sy luister van die oggend tot die aand na RSG en het aanvanklik gedink sy gaan ’n radio-omroeper word. Sy registreer in 2009 vir ʼn BA-graad wat spesialiseer in Joernalistiek en Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria en as voorgraadse student werk sy deeltyds as ’n nuusleser by die kampusradiostasie, TuksFM, om haar radiodrome te verwesenlik. Die akademie kry egter die oorhand en sy besluit om verder te studeer en verwerf in 2012 haar honneursgraad in Afrikaans aan die NWU se Potchefstroomkampus. Daarna voltooi sy haar MA-graad met ʼn navorsingsverhandeling wat fokus op die aard van Standaardafrikaans soos dit aangewend word in radionuusbulletins.

Du Plessis skryf al haar sukses aan haar sterk skoolopvoeding toe. Sy het in 2008 matriek met ses onderskeidings geslaag en wou altyd haar dankbaarheid teenoor die skoolstelsel betoon deur terug te gee en self as onderwyser te werk. In 2016 sit sy woord by daad en word as Afrikaansonderwyser by haar alma mater aangestel. Daar ontdek sy haar talent om te onderrig en haar ondervinding as onderwyser open toe in 2018 vir haar die deur by die NWU om Afrikaans vir onderwysstudente aan te bied. In 2020 voltooi sy ʼn nagraadse onderwyssertifikaat om haar onderrigervaring en ander kwalifikasies met ’n professionele onderwyskwalifikasie aan te vul. As jong akademikus het sy al twee referate by die jaarlikse SALALS-kongres gelewer en sy skaaf tans aan haar eerste navorsingsartikel wat eersdaags in die Tydskrif vir Taalonderrig sal verskyn.

Deur die universiteitskursusse wat sy die afgelope vier jaar aanbied, word sy gekonfronteer met uiteenlopende navorsingsvrae, waarvoor daar nog nie antwoorde beskikbaar is nie. Dit wissel van die ernstige leesprobleem waarmee Suid-Afrikaanse leerders wroeg; die leemtes in onderwysers se teoretiese taalkennis en professionele ontwikkeling as ʼn moontlike oplossing daarvoor; asook die politiese stigmas wat aan Afrikaans as onderrigtaal kleef en die invloed daarvan op die oorlewing en toekoms van die taal in sy geheel. Tans is sy besig om onderskoekend na hierdie kwessies te kyk as ’n moontlike navorsingsonderwerp vir ’n PhD-studie wat vir haar op die horison wink.

Karien Brits

Karien Brits is die voltydse taalpraktisyn van Akademia en ʼn deeltydse dosent in Sepedi as Gesprekstaal. Sy het ʼn BBk-graad (Bedryfskommunikasie) asook ʼn honneurs- en meestersgraad (cum laude) in Setswana aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Karien se navorsingsfokus is meertaligheid, taalbeplanning en taalregte maar sy stel ook belang in taalverwerwing, morfologie, taaltegnologie en onomastiek. Sy tree by geleentheid op as ʼn tolk in verskeie landdroshowe (Kempton Park, Randburg, Westonaria, Germiston) waar sy Pools-Engels-Pools tolk. Haar mees onlangse referaat was by die Europese konferensie van die International Association for Forensic and Legal Linguistics in Porto (Portugal) in Julie 2022. Haar mees onlangse gepubliseerde werk (saam met dr. Zakeera Docrat) is ʼn artikel in die South African Journal of African Languages oor taalstereotipering en meertaligheid. Sy is al vir twee dekades in die universiteitswêreld betrokke en was werksaam by die Noordwes-Universiteit, die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan (Pole) asook die Universiteit van Johannesburg.

Sanet du Plessis

Sanet du Plessis beskik oor ʼn BA-graad met Afrikaans en Politieke Studies as studierigtings. Verder beskik sy oor ʼn honneurs- en meestersgraad in Afrikaans aan die Randse Afrikaanse Universiteit (UJ) verwerf. Du Plessis se navorsingsfokus is taalvariasie met spesifieke verwysing na Gariep-Afrikaans. Sy was vanaf 2014 betrokke by die doseer van Afrikaans by die Universiteit van Witwatersrand, en by The IIE’s Varsity College se Durban-, Sandton- en Waterfallkampus.

KURSUSLEIER

Dr. Annelise de Vries  |  annelise@akademia.ac.za