Splinternuwe kortkursus fokus op die ontwikkeling van ʼn persoonlike handelsmerk

Akademia et al. voeg met trots die splinternuwe kortkursus, Ontwikkel ʼn persoonlike handelsmerk, tot dié platform se kursusaanbod. Dié opwindende kortkursus, wat die formaat van ʼn eendagwerkswinkel aanneem, vind op 9 Mei 2025 vanaf 08:30 tot 15:00 plaas by Akademia se Leriba-kampus in Centurion.

Hierdie kortkursus is ideaal vir enigeen wat hul persoonlike handelsmerk wil ontwikkel ten einde hul teikengehoor meer doeltreffend te bereik en hulself op dié manier as ʼn geloofwaardige kenner in hul spesialisveld wil vestig. Volgens Peter Pentz, die kursusaanbieder, word kursusgangers nie beperk deur ouderdom, posisie of beroep nie, en sal die kursus tot ʼn wye gehoor spreek. Hierdie gehoor kan byvoorbeeld verskeie beroepsvelde insluit, waaronder medici, regspraktisyns, joernaliste, mediaverteenwoordigers, besigheidseienaars, entrepreneurs, smaakmakers, inhoudskeppers en selfs kunstenaars.

Tydens die werkwinkel sal die volgende kursusinhoud aandag geniet:

  • Die belangrikheid van ʼn persoonlike handelsmerk in vandag se beroepswêreld;
  • Die ontwikkeling van ʼn persoonlike handelsmerk binne ʼn digitale milieu;
  • Hoe om toesprake, media-onderhoude en netwerkgeleenthede optimaal te benut; en
  • Die ontwikkeling van ʼn persoonlike handelsmerkstrategie wat belyn is met langtermynloopbaandoelwitte.

Meer oor die kursusaanbieder

Pentz verteenwoordig ʼn derde generasie van die Pentz-familie, en is aktief betrokke is by hulle familieplaas, Groote Post-wynlandgoed. Nִá afloop van die voltooiing van sy graad in Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het Pentz ʼn loopbaan in die kommunikasieagentskapbedryf gevolg en homself met van die voorste korporatiewe wynhandelsmerke in die land gebesig.

Hy sluit in 2020 by die Groote Post-wynlandgoed aan waar hy verantwoordelik is vir dié handelsmerk se kommunikasie- en bemarkingsaktiwiteite. Hy is ʼn gereelde gas, nasionaal en internasionaal, op televisie en radio waar hy sy kundigheid oor verskeie onderwerpe rakende die Suid-Afrikaanse wynbedryf deel. Hoogtepunte in dié verband sluit onder meer verskynings op prominente nuuskanale soos die BBC, CNN en eNCA in.

In 2022 word Pentz erken as een van die mees invloedryke individue onder 30 in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en word hy opgeneem in Wineland Media se gesogte Top 30 onder 30-ranglys.

Registreer vandag nog en ontsluit só jou persoonlike handelsmerk

Die koste verbonde aan dié nuwe kortkursus beloop R1 600 en belangstellendes het tot 5 Mei om te registreer. Vir meer inligting besoek die Akademia et al.-webblad.