Akademia et al. bied aan: Watergehaltebestuur-kortkursus

Watergehaltebestuur is méér as net ʼn gonswoord van die tyd. Die wete dat minder as een persent van alle water op aarde vir menslike gebruik geskik is, tesame met die waarskuwing van die sogenaamde Dag Zero daadwerklike aksie noodsaak ten einde ʼn noemenswaardige verskil te bewerkstellig. In die lig hiervan bied Akademia et al. ʼn splinternuwe kortkursus, Watergehaltebestuur, aan wat op 9 September 2024 ʼn aanvang sal neem.

Hierdie kursus, wat vanaf  9 tot 12 September strek, sal op Akademia se Leriba-kampus in Clubview, Centurion aangebied word. Die kursus is ideaal vir omgewingskundestudente wat bykomende loopbaanvaardighede wil bemeester, asook professionele persone in die werkplek wat nog nie oor die spesifieke agtergrondkennis van waterbestuur beskik nie. Belangstellendes vanuit plaaslike munisipale kringe asook regeringsamptenare wat getaak is met waterbestuur sowel as individue in die mynbou-, landbou- en natuurbewaringsektore sal ook by dié kursus baat vind. Dit is belangrik om daarop te let dat hoewel die kursus deur die loop van die jaar in beide Afrikaans en Engels aangebied gaan word, die eerste opleidingsgeleentheid in Engels sal wees.

Die volgende aspekte sal in die kursus gedek word:

  • Inleiding tot waterhulpbronbestuur
  • Drinkwater
  • Sanitasie en infrastruktuur

Die kursus word aangebied deur Francois van Wyk en hy word bygestaan deur ʼn paneel van hoogs ervare kundiges. Hierdie kundiges sluit in Leanne Zdyb Coetzee en dr. Danie Nel.

Van Wyk is werksaam by Rand Water as ʼn waterkwaliteitspesialis en sy pligte behels onder meer die monitering van watergehalte in die Bo-Vaal-opvangsgebied en die ontwikkeling van monitering- en bestuursprogramme vir die Lesotho-Hooglandskema in. Hierbenewens is hy verantwoordelik vir die bestuur van die oewerontwikkeling langs die Vaaldam en die Vaarivier-barrage, die saamstel van waterkwaliteitsverslae, die bestuur van akwatiese indringerplante, die monitering van vloede en die bestuur van verskeie publieke waterbestuursforums.

Coetzee is ʼn watersuiwering- en waterkwaliteitspesialis met meer as 24 jaar se ondervinding. As ʼn lid van Waterlab, ʼn privaat laboratorium, was sy verantwoordelik vir die totstandkoming van ʼn molekulêre laboratorium wat gebruik is vir die ontleding van riool- en rivierwater ten tye van die Covid-19-pandemie. Coetzee is betrokke by die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) – waar sy ook as voorsitter opgetree het en verantwoordelik was vir die ontwikkeling van die nasionale drinkwaterstandaard, asook die Blou- en Groendruppel-sertifiseringsprogram.

Nel beskik op sy beurt oor wye ervaring binne die munisipale konteks en tree nasionaal en internasionaal op as ʼn spesialiskonsultant. Hy fokus onder meer op aspekte soos water- en rioolvoorsiening, watersuiwering, die rehabilitasie van pype en stelsels en die risiko verbonde aan grootmaatwatervoorsiening.

Die koste van hierdie kursus beloop R6 500 wat alle sessies insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies vir hierdie kursus sluit op 4 September.