Nuwe kortkursus: Digitale media en kunsmatige intelligensie in die klaskamer

Krap jy kop oor die effektiewe gebruik van mediahulpbronne en -strategieë vir onderrig en leer doeleindes? Weet jy hoe om as onderwyser die dinamiese en tegnologiese landskap van gevorderde pedagogiek te navigeer? Akademia et al. se splinternuwe kortkursus, Digitale media en kunsmatige intelligensie (KI) in die klaskamer, het dit ten doel om by wyse van ʼn praktykgerigte benadering en doelmatige gebruik jou greep op innoverende tegnologieë te versterk.

Dié kursus strek oor ses weke en begin op 28 September. Dit is pasgemaak vir reeds ervare onderwysers, onderwysstudente en beginnerdosente wat digitale media en kunsmatige intelligensie doeltreffend in hul lesse moet integreer. Volgens Monique Alberts, een van die kursusaanbieders, word daar met hierdie opleiding gepoog om ʼn praktykgerigte benadering te volg wat onderwyslui in staat sal stel om dit wat hulle aktief gaan oefen ook doelgerig te kan implementeer. “Ek en my mede-aanbieders, dr. Chris-Mari Le Hanie en DJ Cloete, het dit ten doel om nie net elke kursusganger se kennis en vaardighede oor digitale geletterdheid te bevorder nie, maar ook om hul as akademies uitnemende en kreatiewe denkers toe te rus,” verduidelik Alberts.

Die volgende kursusinhoud sal ná afloop van die oriënteringsessie (28 September) gedek word:

  • Inleiding tot digitale geletterdheid (Week 2, 5 Oktober)
  • Die ontdekkingsreis van kunsmatige intelligensie vir effektiewe leer (Week 3, 12 Oktober)
  • Doeltreffende integrasie van digitale media vir gehalte onderrig (Week4, 19 Oktober)
  • Herbesin assessering op ʼn kreatiewe manier by wyse van digitale media (Week 5, 26 Oktober)
  • Die bevordering van samewerkende leer en kommunikasie by wyse van digitale media (Week6, 2 November)

Meer oor die kursusaanbieders

Monique Alberts is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia. Sy het ʼn BEd-graad in Verdere Onderwys en Opleiding asook ʼn honneursgraad in Engelse Letterkunde en in Opvoedkunde met ʼn fokus op leerderondersteuning. Sy verwerf hierdie kwalifikasies onderskeidelik aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Alberts het in 2024 haar meestersgraad in Opvoedkunde verwerf aan die Universiteit van Pretoria (UP) en haar navorsingsfokus is Engels as taal van onderrig en leer. Sy het agt jaar as onderwyser gepraktiseer.

Dr. Chris-Mari Le Hanie is ʼn senior dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn PhD in Opvoedkunde met ʼn fokus op Kurrikulumstudies. Sy beskik ook oor ʼn honneurs- en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Haar navorsingsfokus is kurrikulumstudies, assessering, navorsing en besigheidsonderwys. In haar loopbaan het sy verskeie posisies binne die onderwyssektor beklee waaronder kurrikulumkoördineerder en -ontwikkelaar, hoof van institusionele kwaliteit en akademiese steun, onderwyser en dosent. Le Hanie is die skrywer van ʼn aantal joernaalartikels, boekhoofstukke en boeke in die veld van opvoedkunde.

DJ Cloete is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BA-graad in Tale asook ʼn honneurs- en meestersgraad in Tale aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Hy het ook sy NGOS-kwalifikasie by Akademia verwerf. Cloete het ʼn wye belangstelling in die werkinge van taal en het al meegewerk aan internasionale projekte wat insluit Skryfhulp Afrikaans. Voor die aanvang van sy posisie by Akademia was hy was ʼn lektor in Taalkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en ook nou betrokke by projekte wat deur ICELDA en SADiLaR van stapel gestuur is. Hierdie projekte se doel is om hulpmiddels daar te stel wat studente kan ondersteun tydens hulle akademiese loopbaan en om meertaligheid binne die hoëronderwyskonteks te bevorder. Hy was ook projekbestuurder van ʼn nuwe boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans, getiteld Toegepaste Taalkunde in Afrikaans (2022). Cloete se navorsingbelangstellings is variasietaalkunde en rekenaargesteunde taalonderrig.

Die koste van hierdie kursus beloop R7 500 wat alle sessies insluit. Besigtig die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie nuwe kortkursus.