Die vermoë en gepaardgaande vaardigheid om probleme binne die vele fasette van die bedryfswêreld innoverend en effektief aan te pak word hoog aangeskryf. Indien jy jouself met diesulke vaardighede wil toerus en só probleme konstruktief en met selfvertroue benader, is Akademia et al. se splinternuwe kortkursus: Inleiding tot TRIZ vir innoverende probleemoplossing, pasgemaak vir jou.
Hierdie kursus, wat die formaat van ʼn aanlyn werkswinkel aanneem, vind plaas op Dinsdag 27 Mei 2025 en het dit ten doel om ʼn oorsig oor TRIZ, ʼn internasionaal erkende en innoverende probleemoplossingsmetode, te verskaf. Die kursus is ideaal vir leiers, uitvinders, entrepreneurs, innoveerders en individue wat hulself met professionele praktyke besig en wat op soek is na metodes om stelsels te optimaliseer, verbeter en te innoveer.
Meer oor die kursusinhoud
Die volgende temas sal tydens die werkswinkel behandel word:
- Die geskiedenis en ontwikkeling van TRIZ;
- Die aanwending van TRIZ-beginsels aan die hand van praktiese voorbeelde;
- Vindingryke probleemoplossing by wyse van gestruktureerde dinkskrumhulpmiddels;
- Die verheffing van deduktiewe en induktiewe denkvaardighede ten einde skeppende denke te stimuleer;
- Die oplos van alledaagse bedryfsprobleme deur middel van probleemoplossingstegnieke gebaseer op beginsels vanuit die wêreld van patente; en
- Toepassing van TRIZ-beginsels met die oog op die optimalisering van prosesse en splinternuwe innoverings.
Meer oor die kursusaanbieder
Die kursus word deur dr. Murray Coombs gefasiliteer en aangebied met ondersteuning van Jac Spies, TRIZ-leier.
Coombs is ʼn mediese spesialis werksaam in die besigheidswêreld, met ervaring in onder meer prosesoptimalisering, probleemoplossing en innovasie. Sy kennis is nie beperk tot die mediese industrie nie, maar vind ook toepassing in besighede en gepaardgaande werksprosesse. Hy bring talle praktiese voorbeelde vanuit sy eie ervaringsveld na internasionale maatskappye wêreldwyd.
Registrasies vir dié kursus sluit op Maandag 19 Mei en die koste beloop R1 000 per kursusganger. Vir meer inligting besoek die Akademia et al.-webblad.