Akademia et al. bied aan: Selfontwikkeling en afrigting – Die held se reis

Is jy ʼn geregistreerde sielkundige, berader of psigometris? Indien wel, bied die kortkursus: Selfontwikkeling en afrigting – Die held se reis, jou die ideale geleentheid om nie net jou vaardighede op te skerp nie, maar ook ʼn waardevolle voortdurende professionele ontwikkelingsgeleentheid (VPO). Die kersie op die koek? Dié kursus is vir 25 Voortgesette Onderrigeenhede (VOE’s) by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) geregistreer.

Die kursus begin op 2 Augustus 2024 en neem ʼn aanlyn en selfgerigte leerformaat aan en sal in beide Afrikaans en Engels aangebied word. Inhoudsgewys bied die kursus ʼn raamwerk waardeur kursusgangers deur selfontdekking, reflektiewe oefeninge en praktiese strategieë hul lewensdoel en talente kan ontdek en ontwikkel. Deelnemers sal ook langs hierdie weë ander individue suksesvol deur die proses kan begelei.

Hiermee ʼn oorsig van die kursusinhoud:

  • ʼn Dieper begrip van lewensdoel en tegnieke om dit te ondersoek.
  • Begrip en tegnieke om talente te verstaan in die konteks van die lewensdoel.
  • Selfinsig in denkpatrone en oortuigings wat potensiaal kan belemmer of ondersteun.
  • Strategieë om denkpatrone en oortuigings te vorm om die lewensdoel te ondersteun.
  • Projek: Ontwikkeling van ʼn lewensplan om besluite daarvolgens uit te voer.

Volgens die kursusaanbieders, dr. Rina Steynberg en ds. Cobus Swart, word beperkende oortuigings – wat moontlik die verwesenliking van ʼn lewensdoel kan belemmer, geïdentifiseer en strategieë word vervolgens ondersoek om hierdie hindernisse te oorkom. In ʼn neutedop bied die kursus insig oor hoe om unieke talente en vermoëns te benut om só ʼn betekenisvolle en vervullende lewe te lei.

Meer oor die kursusaanbieders

Dr. Rina Steynberg is ʼn dosent by Akademia in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy het ʼn doktorsgraad in Leierskap en Veranderingbestuur en is ʼn geregistreerde bedryfsielkundige. Steynberg het meer as twintig jaar se ondervinding as bestuurskonsultant en spesialiseer in strategie, kultuurwerk en leierskapontwikkeling. Hierbenewens tree sy op as toesighoudende sielkundige vir intern sielkundiges en psigometriste. As dosent bied Steynberg Innovasiebestuur en Organisatoriese Bestuur aan. Haar navorsingsfokus is leierskap, veranderingbestuur en die neurowetenskap.

Ds. Cobus Swart beskik oor ʼn MA-graad in Godsdiens- en Bybelwetenskap en werk reeds vir die afgelope sestien jaar as leeraar – eers voltyds en nou deeltyds. Sy diepgaande belangstelling in hermeneutiek, wat handel oor hoe mense sin maak van die wêreld, het hom betrokke gemaak by verskeie beradingsgeleenthede, veral met leierstrukture. Hierdie belangstelling het hom voorts aangespoor om ook ʼn BCom-kwalifikasie in Bedryfsielkunde te voltooi en só ʼn dieper begrip van sielkunde in die besigheidswêreld te ontwikkel. Swart se studie- en werksondervinding stel hom in staat om ewe gemaklik te funksioneer binne beide die teologiese en die besigheidsomgewing.

Die koste verbonde aan die kursus beloop R3 800. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies vir hierdie kursus sluit op 29 Julie.