Akademia et al. bied aan: Projekbestuur in praktyk

Droom jy daarvan om as projekbestuurder as ʼn argitek van (projek)sukses beskou te word en só aan die voorpunt van jou bedryf te staan? Indien wel, is die Akademia et al- kortkursus: Projekbestuur in praktyk, pasgemaak vir jou. Dié kursus, wat aanlyn en in Afrikaans aangebied word, sal oor ʼn tydperk van ses weke strek en begin op 5 Augustus 2024.

Volgens Jaun Kriel, die kursusaanbieder, kan dié kursus as die toegangspoort na effektiewe projekbestuur gesien word en het dit ten doel om die kompleksiteite van moderne projekte op ʼn praktiese wyse te bestudeer en toe te pas. “Deur die samevoeging van interaktiewe aanlyn sessies, gevallestudies en pasgemaakte praktykgerigte oefeninge sal die kursusganger toegerus word om by wyse van ʼn teoretiese grondslag projekgebaseerde werk meer effektief, doeltreffend, tydsgebonde en binne ʼn begroting af te handel,” verduidelik Kriel.

Die kursusinhoud omvang die volgende praktiese aspekte:

  • Identifiseer en besluit oor werklike projekte binne jou beroep
  • Praktiese opstel van ʼn werkuiteensettingskedule
  • Ontwikkel ʼn visuele voorstelling van ʼn netwerkdiagram
  • Stel ʼn basiese projek saam met ʼn begroting, risiko’s en verslagdoening

Meer oor die kursusaanbieder

Kriel is ʼn dosent in die departement Bestuurwetenskappe binne die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia. Hy is ook die programkoördineerder van die Gevorderde Diploma in Projekbestuur. Kriel beskik oor ʼn BCom-graad in Korporatiewe Kommunikasie en Toerismebestuur, asook ʼn honneurs- en meestersgraad in hierdie dissipline. As ʼn bewese projekbestuurder beskik hy voorts oor ʼn CAPM- (Certified Associate Project Manager) en DASM-sertifisering (Disciplined Agile Scrum Master) wat aan die Projekbestuurinstituut (PMI) verwerf is.

Die koste van hierdie kursus beloop R5 000 wat alle sessies insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies vir hierdie kursus sluit op 29 Julie.