Zoeloe vir beginners

Die doel van die kursus is om elkeen wat graag Zoeloe (isiZulu) wil verstaan en praat aan hierdie grootste moedertaal in Suid-Afrika bekend te stel. Frikkie Mulder – die kursusaanbieder wat ’n poliglot is en meer as tien tale kan praat – kombineer die taalprogram met verhale, geskiedenis, en filosofiese tendense uit die huidige Zoeloesprekende wêreld asook vanuit sy eie belewenis en analise daarvan. Die fokus is om Zoeloe te begin verstaan, en om dit te begin praat.

Begindatum

April 13, 2026

Formaat

Agt aanlyn sessies

Koste

R3 300

Toelatingsvereiste

’n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)

Onderrigtaal

Slegs Afrikaans

KURSUSINHOUD

  • Daar is een lied per les, soos byvoorbeeld die lied “Impi” deur die groep Juluka.
  • Dialoog waarin die student begelei word om in gesprek te tree met ’n Zoeloesprekende.
  • Een aspek van Zoeloe se taalleer word per les bespreek.
  • Spesifieke idiome en gesegdes in Zoeloe word bekendgestel.
  • Daar word ook na die geskiedenis van die Zoeloesprekendes gekyk.

IDEALE KURSUSGANGER

Die kursus is ideaal vir enige persoon wat die behoefte het om meer oor Zoeloe te leer en sy/haar gespreksvaardighede in Zoeloe onder die knie te kry.

DATUMS

Die kursus sal oor agt weke strek vanaf 13 April tot 8 Junie 2026.

REGISTRASIES SLUIT

9 April 2026

KURSUSAANBIEDERS

Frikkie Mulder

Frikkie (JFK) Mulder is ’n taalkundige, ’n historikus, en ’n teoloog. Mulder matrikuleer aan die Hoërskool Waterkloof in 1989 en studeer daarna BA (Tale) by die Universiteit van Pretoria. In hierdie tyd begin hy in sy liefde vir tale meer en meer plaaslike tale aan te leer. Hy doen voorts ’n hoëronderwysdiploma en voltooi daarna ’n honneursgraad in Zoeloe. Hy dien in hierdie tyd as taalpraktisyn by die SAUK se TV-reeks Soul City.

Daarna studeer hy teologie deur die John Wycliffe Theological College in Randburg en verwerf so ’n BA-teologiegraad deur die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy trou in 1998 met Shakinah Moosa waarna hulle na Oekraïne vertrek vir Christelike sendingwerk. Ná hulle terugkeer na Suid-Afrika in 2003 in Laudium, Wes van Pretoria vir ’n paar jaar. Daarna gee hy vir ’n paar jaar skool by Midstream Kollege in Midrand en dien daarna weer as prediker by Legend Golf and Safari Resort naby aan Potgietersrus.

Intussen voltooi hy sy teologiese studie en word tot die bediening in die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika toegelaat, waarna hy beroep word na die Gereformeerde kerke Amanzimtoti en Durban. Daar dien die Mulders van 2013 tot 2018 waarna Frikkie eervolle ontslag van die amp as predikant ontvang. Hy word in hierdie tyd as een van die topbydraers by die derde grootste Zoeloe koerant in Suid-Afrika – BAYEDE uitgewys. Hulle woon vir ’n tyd in Pretoria en verhuis daarna na die Wes-Kaap.

Mulder hou hom sedert 2020 besig met die aanlyn onderrig van Zoeloe aan die hand van kursusse wat hy self skryf. Aan die einde van Oktober 2022 val dit hom te beurt om die nuwe Zoeloe-koning by die Moses Mabhida-stadion in Zoeloe en Afrikaans voor die skare mense toe te spreek, en hy dien ook as tolk op die plaas Thengisangaye buite Middelburg in 2024 wanneer hy koning Misuzulu kaZwelithini se Engelse toespraak aan die afgevaardigdes daar in Zoeloe tolk. Die Mulders het vyf kinders – vier dogters en ’n seun.

Mulder is ’n poliglot wat meer as tien tale kan praat, net om enkeles te noem, Zoeloe, Xhosa, Russies, Pedi, Tswana, Afrikaans en Engels.

KURSUSLEIER

Karien Brits | karien@akademia.ac.za