Die Odusseia: die eerste gedig

Die doel van hierdie kursus is om kursusgangers te begelei deur een van die grootste tekste in die Westerse kanon. Die Odusseia is een van die hoekstene waarop ʼn eeueoue tradisie gebou is. Hierdie tradisie kan bes verstaan word as ʼn lang gesprek waaraan die wyse denkers, verbeeldingryke skrywers en insiggewende digters elk op hul tyd ʼn spreekbeurt ontvang het. Deur kennis te maak met van die eerste woorde in hierdie epiese gesprek word kursusgangers blootgestel aan die groot vrae van die menslike bestaan, soos onder andere: Wat is die mens en waar hoort die mens? Wat is die werklike waarde van die huis en van tuiskoms? In hierdie kursus word Homeros se groot avontuurverhaal ontleed en vir kursusgangers toeganklik gemaak, sodat hulle self deel van hierdie grootse tradisie kan word.

Begindatum

Enige Tyd

Formaat

Selfgerigte aanlyn leer

Koste

R250

Toelatingsvereiste

Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)

Onderrigtaal

Slegs Afrikaans

KURSUSINHOUD

  • Die mitiese wêreld van Homeros: hoe om koers te hou in ʼn vreemde wêreld
  • Die sentrale temas: die sleutels wat elke leser nodig het om die teks te ontsluit
  • Die leë huis van Odusseus: die rol van die koning, vader en man in Die Odusseia
  • Die avonture van Odusseus: hoekom ʼn held gelouter moet word voor hy weer kan tuiskom
  • Die tuiskoms van Odusseus: die herstel van orde en vrede na jare se geveg en geswoeg.

Die Odusseia, verwerk deur Karien Brits, is ʼn verwerking van professor JPJ van Rensburg se Afrikaanse vertaling van Homeros se gewilde en alombekende The Odyssey. Klik hier om dit te koop.

IDEALE KURSUSGANGER

Hierdie kursus is ideaal vir enigiemand met ʼn liefde vir lees en ʼn begeerte om dit wat hulle lees dieper te verstaan. Hierdie kursus poog om die kursusganger se denke verder te verryk deur blootstelling aan die grondliggende idees van die Westerse tradisie. Daardeur word die kursusganger gelei na groter insig in hul eie herkoms en toegerus om die groot vrae van die lewe aan te pak.

DATUMS

Die program behels selfgerigte leer en kursusgangers kan enige tyd deur die loop van die jaar vir die kursus inskryf. Kursusgangers sal wel die betrokke kursus binne ses maande moet voltooi, of weer vir die kursus registreer.

KURSUSAANBIEDERS

 

Daan Goosen is ʼn dosent in die Groot Boeke-program aan Akademia en het ʼn BA-graad in Visuele Kultuurstudies asook ʼn honneursgraad (cum laude) in dieselfde dissipline aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy het sy meestersgraad (cum laude) in Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat in 2024 verwerf. Goosen se navorsingsfokus is die Westerse literatuur en die klassieke metafisika. Hy doseer tans die volgende modules aan Akademia:

  • Filosofie
  • Drie modules in die Groot Boeke-program

KURSUSLEIER