Akademia et al. bied aan: Onderrig van Afrikaans as addisionele taal

Ná die sukses van die vorige aflewerings van Akademia et al. se kortkursus: Onderrig van Afrikaans as addisionele taal, word dié kortkursus weer vanaf 26 Junie 2024 aangebied. Die doel van hierdie kursus is om voornemende en huidige Afrikaansonderwysers toe te rus met die kennis van die onderrig van Afrikaans as ʼn addisionele taal op skoolvlak.

Hierdie kortkursus is nie net by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SACA) as diensverskaffer geregistreer nie, maar gee voorts aan kursusgangers die geleentheid om waardevolle CPTD-punte te verdien indien hulle die kursus suksesvol voltooi.

Volgens die kursusleier, dr. Annelise de Vries, is hierdie kursus pasgemaak vir voornemende óf huidige onderwysers wat gekwalifiseerd is om Afrikaans as vak aan te bied. Sy verduidelik voorts dat onderwysers wat nie opgelei is om Afrikaans as vak aan te bied nie, maar hulself in ʼn posisie bevind waar hulle wel die taal as vak op ʼn addisionele vlak moet onderrig, geweldig baie by hierdie kursus sal baat. “Gehalte onderrig van Afrikaans as ʼn addisionele taal vir niemoedertaalsprekers is noodsaaklik vir die uitbouing en omarming van Afrikaans met al sy variasies,” meen De Vries en voeg by dat bewyse bestaan dat onderwysers in baie gevalle nie genoegsame ondersteuning ontvang om dié vak aan te bied nie.

Die kursus sal in ʼn aanlyn formaat aangebied word en bestaan uit een oriënteringsweek, vier weke se selfgerigte leer en sluit twee ure per week se aanlyn kontaksessies in. Die programskedule sien as volg daaruit:

  • Oriënteringsweek: 26 Junie
  • Eenheid 1: 3 Julie
  • Eenheid 2: 10 Julie
  • Eenheid 3: 17 Julie
  • Eenheid 4: 18 Julie

Gedurende die verloop van die kursus sal die volgende kursusinhoud gedek word:

  • Die destigmatisering en regverdiging van Afrikaans as addisionele taal op skoolvlak
  • Die skoolkurrikulum (KABV) en addisioneletaalonderrigmetodiek
  • Taalleer op skoolvlak
  • Letterkunde op skoolvlak

De Vries sal as kursusleier bygestaan word deur ʼn span kundiges waaronder Carmen du Plessis, Karien Brits en Sanet du Plessis.

Meer oor die kursusleier en -aanbieders

De Vries is ʼn ervare dosent in Afrikaans en het ʼn doktorsgraad in Toegepaste Linguistiek, ʼn meesters- en honneursgraad in Afrikaans en Nederlands, ʼn BA-graad in Kommunikasiestudies asook ʼn BA-graad in Pastorale Begeleiding en Psigologie. Sy het haar doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) verwerf en haar meesters-, honneurs- en BA-grade aan die Noordwes-Universiteit (NWU). De Vries se navorsingsfokus is toegepaste linguistiek waaronder taalbeplanning en forensiese linguistiek val.

As onderwyskenner het sy vir drie jaar in die onderwysomgewing gewerk en daarna vier jaar grotendeels as ʼn navorser diens gedoen. Sy is tans verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Carmen du Plessis is verbonde aan die NWU se Fakulteit Opvoedkunde in die hoedanigheid as dosent van verskeie Afrikaanstaalkundemodules vir voor- en nagraadse onderwysstudente.

Sy verwerf ʼn BA-graad wat spesialiseer in Joernalistiek en Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria (UP), waarna sy in 2012 haar honneursgraad in Afrikaans aan die NWU verwerf. Du Plessis voltooi haar meestersgraad met ʼn navorsingsverhandeling wat fokus op die aard van Standaardafrikaans soos dit aangewend word in radionuusbulletins.

In 2020 voltooi sy ʼn nagraadse onderwyssertifikaat om haar onderrigervaring en ander kwalifikasies met ’n professionele onderwyskwalifikasie aan te vul. Sy besig haarself voorts met uiteenlopende navorsingsvrae, waarvoor daar nog nie antwoorde beskikbaar is nie. Dit wissel van die ernstige leesprobleem waarmee Suid-Afrikaanse leerders wroeg; die leemtes in onderwysers se teoretiese taalkennis en professionele ontwikkeling as ʼn moontlike oplossing daarvoor; asook die politiese stigmas wat aan Afrikaans as onderrigtaal kleef en die invloed daarvan op die oorlewing en toekoms van die taal in sy geheel. Tans is sy besig om onderskoekend na hierdie kwessies te kyk as ’n moontlike navorsingsonderwerp vir ’n PhD-studie wat vir haar op die horison wink.

Karien Brits is ʼn voltydse taalpraktisyn by Akademia en ʼn deeltydse dosent in Sepedi as Gesprekstaal. Sy het ʼn BBk-graad (Bedryfskommunikasie) asook ʼn honneurs- en meestersgraad (cum laude) in Setswana aan die NWU verwerf. Haar navorsingsfokus is meertaligheid, taalbeplanning en taalregte, maar sy stel ook belang in taalverwerwing, morfologie, taaltegnologie en onomastiek. Sy tree by geleentheid op as ʼn tolk in verskeie landdroshowe (Kempton Park, Randburg, Westonaria, Germiston) waar sy Pools-Engels-Pools tolk.

Brits is al vir twee dekades in die universiteitswêreld betrokke en was werksaam by die NWU, die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan (Pole) asook UJ.

Sanet du Plessis beskik oor ʼn BA-graad met Afrikaans en Politieke Studies as studierigtings. Sy het haar honneurs- en meestersgraad in Afrikaans aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ) verwerf. Du Plessis se navorsingsfokus is taalvariasie met spesifieke verwysing na Gariep-Afrikaans. Sy was vanaf 2014 betrokke by die doseer van Afrikaans by die Universiteit van Witwatersrand, en by The IIE’s Varsity College se Durban-, Sandton- en Waterfall-kampus.

Die koste van hierdie kursus beloop R6 550 wat alle sessies insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies vir hierdie kursus sluit op 24 Junie.