Is jy reeds ʼn nagraadse student wat na ʼn voorsprong in jou honneurs- of meestersgraadstudie streef of oorweeg jy om nauurse studie aan te pak? Indien wel, is Akademia et al. se splinternuwe kortkursus, Navorsing in ʼn neutedop: Kry ʼn voorsprong in jou honneurs- of meesterstudie, pasgemaak vir jou.
Volgens Johann Smith, kursusaanbieder, kan effektiewe navorsingsvaardighede die angel uit kwantitatiewe navorsing haal. Hierdie kortkursus sal ʼn oorsig én praktiese simulasie van die kwantitatiewe navorsingsproses bied en só kursusgangers toerus om navorsingsprojekte met selfvertroue aan te pak en te voltooi. “Kursusgangers kan hierdie kortkursus as ʼn blitskursus vir nagraadse studie volg om ʼn kwantitatiewe navorsingsprojek af te handel. Deur die loop van die kursus sal elke stap in die navorsingsproses bespreek en prakties toegepas word en só enige twyfel óf onbekendheid uit die weg ruim,” verduidelik Smith.
Dié kursus word aanlyn in Afrikaans aangebied en neem die formaat van selfgerigte leer aan, wat beteken dat kursusgangers dit na gelang van hul besige skedules kan aanpak en voltooi.
Die volgende kursusinhoud sal aandag geniet:
- Literatuurstudie en die skep van ʼn hipotese,
- Die vind, geldigheid en moontlike vertaling van ʼn meetinstrument,
- Die skoonmaak van data en beskrywende statistiek,
- Toetsing van die hipotese (inferensiële statistiek), en
- Interpretasie van resultate.
Meer oor die kursusaanbieder
Johann Smith is ʼn dosent in Wiskunde en Statistiek by Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Hy het ʼn BCom-graad en ʼn honneursgraad in Informatika, asook ʼn meestersgraad in Kommunikasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Smith se huidige navorsingsfokus is Innovasiebestuur, asook die bestuur van Wiskunde-angs en Wiskunde-veerkragtigheid in hoëronderwysinstellings. Hy praktiseer as ʼn bestuurskonsultant, maar is ook reeds vir tientalle jare in die onderwyssektor betrokke.
Die koste verbonde aan hierdie kortkursus beloop R2 000. Vir meer inligting besoek gerus die Akademia et al.-webblad.