Akademia et al. bied aan: Engels eerste addisionele-taalopleiding

Akademia et al. se kortkursus, Engels eerste addisionele-taalopleiding, begin op 7 Oktober 2024 en bied ʼn omvattende en diepgaande oorsig vir beide NGOS-studente en praktiserende onderwysers in die Senior Fase (FS)- en Verdere Onderwys en Opleiding (VOO)-onderwys.

Dié kursus dek ʼn wye verskeidenheid vakspesifieke onderwerpe, sowel as relevante kwessies in die taalonderwysmilieu om studente toe te rus met gespesialiseerde kennis en vaardighede in die linguistieke sowel as letterkundige aspekte van Engels. Volgens dr. Nic de Jager, die kursusleier, kan kursusgangers daarna uitsien om ná afloop van die kursus die taalklaskamer met selfvertroue – en kundigheid in Engels as die taal van onderrig en leer (TvOL), te betree.

De Jager meen dat dié kursus ideaal is vir enige voornemende óf huidige Engelsonderwysers wat graag met diepgaande kennis oor die onderrig van Engels as addisionele taal op skoolvlak toegerus wil word. Die kursus, wat in Engels oor ʼn tydperk van ses weke aangebied sal word, neem die formaat aan van een kontaksessie en vyf aanlyn sessies wat as volg daaruit sien:

  • Oriënteringsessie: 7 Oktober (fisiese kontaksessie in Centurion)
  • Leereenheid 1:  14 Oktober | English proficiency
  • Leereenheid 2: 21 Oktober | Engaging with the English first additional language curriculum
  • Leereenheid 3: 28 Oktober | Pedagogical content knowledge
  • Leereenheid 3: 4 November | Pedagogical content knowledge (vervolg)
  • Leereenheid 4: 11 November | Lesson plans

Meer oor die kursusleier

De Jager is ʼn dosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia en spesialiseer in Engels vir beide die BEd- en NGOS-programme. Hy het ʼn baccalaureusgraad in Onderwys (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf, en daarna ʼn honneursgraad in Engelsonderwys, ʼn meestersgraad in Toegepaste Taal en Geletterdheidsonderwys en ʼn doktorsgraad in Onderwys aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) behaal. De Jager se passie vir onderrig en opvoeding lê in die kunste, letterkunde en verskeie digitale platforms, en die geleenthede wat hierdie areas vir kreatiewe uitdrukking en selfverwesenliking bied.

Hy praktiseer sedert 2011 as onderwyser, vakhoof en dosent by verskeie sekondêre skole sowel as hoëronderwysinstellings soos Wits en die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT). De Jager se navorsingsfokus is multimodale pedagogiek, spesifiek die toepassing van alternatiewe onderrigstrategieë in die ontsluiting van voorgeskrewe vakkennis.

Die koste van hierdie kursus beloop R7 500 wat alle sessies insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies vir hierdie kursus sluit op 1 Oktober 2024.