Gesonde verhoudings in die werkplek – Verseker só ʼn gunstige werkomgewing

Gesonde verhoudings is ʼn besliste vereiste vir werksgeluk en met dié realiteit in gedagte bied Akademia et al. wéér vanjaar die gewilde kortkursus, Bou gesonde verhoudinge in die werkplek, aan. Hierdie kortkursus, wat by wyse van twee aanlyn sessies gefasiliteer word, sal op 9 September 2025 begin.

Volgens die kursusaanbieder, dr. Jana Slippers, word daar in dié kursus veral gefokus op verhoudings bou en kommunikasie in die digitale era. “Neem beheer van jou loopbaan deur jouself met kennis én praktiese vaardighede toe te rus en só jou selfvertroue, kredietwaardigheid en uiteindelik jou impak in die werksplek te verhoog,” sê Slippers. Sy gaan voort deur te verduidelik dat die digitale era waarin werknemers hulself oorwegend bevind gekenmerk word deur ʼn inligtingsontploffing. Laasgenoemde vereis effektiewe kommunikasievaardighede ten einde met impak te kan kommunikeer.

Die kursus is ideaal vir enige individu wat gesonde verhoudinge en effektiewe kommunikasie nastreef, en word in Afrikaans aangebied.

Wat die kursusinhoud betref, sal die volgende aspekte aandag geniet:

  • Die stand van kommunikasie in 2025;
  • Die verskillende elemente van kommunikasie en hoe dit by mekaar inskakel;
  • Selfkennis deur begrip van persoonlike denkprosesse;
  • Insig tot persoonlike kredietwaardigheid en hoe maniere om dit te versterk; en
  • Verhoudings bou met kollegas en kliënte by wyse van die gesproke en geskrewe woord.

Meer oor die kursusaanbieder

Slippers is ʼn deeltydse dosent in Besigheidskommunikasie en Navorsingsmetodologie aan die Universiteit van Pretoria (UP). Sy het meer as sestien jaar se ondervinding in die ontwikkeling en aanbieding van kortkursusse in professionele kommunikasievaardighede binne die privaat sektor. Sy is passievol oor die impak van kommunikasie op mense se verhoudings en veral hul loopbaangroei.

Die koste van hierdie kursus beloop R1 200 en die twee aanlyn sessies sal van 08:00 tot 13:00 via Micorsoft Teams op 9 en 10 September plaasvind. Besoek gerus Akademia et al. se webblad vir meer inligting. Registrasies sluit op Vrydag 5 September.