Kortkursus rus besigheidsbestuurders toe met rekeningkundige en MS Excel-vaardighede

In vandag se dinamiese besigheidsomgewing loop ʼn deeglike begrip van finansiële beginsels én die doeltreffende gebruik van Microsoft Excel hand aan hand. Hierdie kennis- en vaardigheidsbasis rus besigheidsbestuurders toe om weldeurdagte besluite te kan neem. Gegewe hierdie realiteit, het die Akademia et al.-kortkursus: Basiese rekeningkundige en MS Excel-vaardighede dit ten doel om effektiewe besluitneming en finansiële ontledingsvaardighede verder te bevorder.

Dié kursus word aanlyn aangebied en neem die formaat van selfgerigte leer aan, wat beteken dat kursusgangers dit na gelang van hul besige skedules kan aanpak en voltooi. Volgens die kursusaanbieder, Shaun Coetzee, is die inhoud saamgestel uit opnames, oefeninge en interaktiewe inhoud wat tipies oor ʼn periode van twee tot vier weke voltooi kan word.

Ten opsigte van die kursusinhoud, word die volgende aspekte gedek:

  • Rekeningkundige vergelyking
  • Algemene vereistes vir die aanbieding van finansiële state
  • Die doel van die balansstaat, inkomstestaat en kontantvloeistaat
  • MS Excel-funksionaliteit vir data-ontleding en besluitneming
  • Basiese grafieke om data visueel voor te stel

Kursusgangers moet daarop let dat Microsoft 365 vir demonstrasiedoeleindes gebruik word. Hierdie sagteware is gratis aanlyn beskikbaar indien daar nie oor die werkskerm-weergawe beskik word nie. Enige weergawe van MS Excel kan gebruik word omdat die basiese toepassings dieselfde bly ongeag van die weergawe wat gebruik word.

Meer oor die kursusaanbieder

Coetzee is ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia. Hy het ʼn BCom (Rekenmeesterskap)-graad en ʼn honneursgraad in Bestuursrekenmeesterskap, beide met lof, aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf. Hy het ook ʼn meestersgraad in Besigheidsadministrasie (MBA) van die Universiteit van Derby, asook ʼn meestersgraad in Strategiese Besigheidsbestuur van die Manchester Metropolitan Universiteit. Coetzee is voorts ʼn geregistreerde geoktrooieerde bestuursrekenmeester (ACMA, CGMA) by CIMA. Sy loopbaan sluit onder meer in werksaamhede in die mynbou-, verbruikersgoedere-, herwinning- en vervaardigingsektore in, waar hy verantwoordelik was vir besighede in Suid-Afrika, Australië en die Verenigde Koninkryk.

Die koste van dié kortkursus beloop R2 000. Besigtig die Akademia et al.-webblad vir meer inligting.