Integrasie van digitale media en KI in die klaskamer

Die doel van hierdie kursus is om onderwysstudente, onderwysers en dosente toe te rus met die gevorderde vaardighede en pedagogiese strategieë wat benodig word om digitale media en kunsmatige intelligensie eties, verantwoordelik en doeltreffend in die klaskamer te integreer. Die fokus val op die ontwikkeling van tegnologiegeletterdheid wat leer bevorder, onderrig verdiep en die kwaliteit van opvoedkundige praktyke versterk. Die kursus volg ’n praktykgerigte, ervaringsgebaseerde benadering waarin kursusgangers aktief digitale hulpmiddels en kunsmatige intelligensie-gebaseerde onderriginstrumente verken, inoefen en betekenisvol binne hul eie onderwyskontekste toepas. Deur die kombinasie van tegniese bekwaamheid, pedagogiese insig en kritiese etiese oorweging word kursusgangers bemagtig om KI as ’n strategiese middel vir effektiewe leer en gehalte onderrig te benut. Uiteindelik beoog die kursus om ’n professionele leeromgewing te versterk waarin innoverende tegnologieë nie bloot aangewend word nie, maar doelmatig geïntegreer word om leerder- en studentbetrokkenheid te verhoog, onderrigpraktyke te transformeer en volhoubare onderwysinnovasie te bevorder.

Begindatum

Mei 9, 2026

Formaat

Slegs aanlyn sessies

Koste

R5 000

Toelatingsvereiste

’n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)

Onderrigtaal

Slegs Afrikaans

Kursusinhoud

  • Inleiding tot digitale geletterdheid en digitale welstand
  • Die ontdekkingsreis van kunsmatige intelligensie vir effektiewe leer
  • Strategiese integrasie van digitale media vir gehalteonderrig
  • Innoverende assessering deur digitale en KI-ondersteunde instrumente
  • Samewerkende en interaktiewe leerervarings met behulp van digitale media en KI-ondersteunde instrumente

Ideale Kursusganger

Die kursus is ideaal vir voornemende onderwysers, ervare onderwysers en dosente wat hul professionele praktyk wil verdiep. Hierdie kursus poog om kursusgangers se kennis en vaardighede in digitale geletterdheid én die doeltreffende, verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie binne die opvoedkundige konteks betekenisvol te bevorder.

Leeruitkomstes

Ná suksesvolle voltooiing van hierdie kursus sal die kursusganger oor die kennis en vaardighede beskik om:

  • sleutelkonsepte, beginsels en teorieë van digitale geletterdheid en kunsmatige intelligensie te integreer en toe te pas in verskeie gespesialiseerde gebiede binne die opvoedkundige konteks;
  • omvattende en onderling gekoppelde kennis van die kernaspekte binne die veld van digitale geletterdheid en kunsmatige intelligensie krities te evalueer, deur die toepaslikheid van teorieë en beginsels op opvoedkundige praktyke te beoordeel;
  • toepaslike digitale media te kan integreer, toepas en vergelyk binne bepaalde pedagogiese benaderings;
  • die geskiktheid en effektiwiteit van die gebruik van die bepaalde digitale media te evalueer om gehalte onderrig en effektiewe leer te bevorder in outentieke kontekste;
  • oor etiese en professionele oorwegings van kunsmatige intelligensie en digitale media te besin wat verband hou met onderrig- en leerervaringe en assesseringspraktyke;
  • digitale media en verskeie kunsmatige intelligensie ondersteunende instrumente te integreer, vergelyk en evalueer vir die selektering van geskikte assesseringsgeleenthede binne ʼn bepaalde dissipline en praktyk;
  • ʼn digitale onderrig en leerervaring binne ʼn bepaalde vak, dissipline of praktyk te ontwerp;
  • volle verantwoordelikheid vir individuele leerbehoeftes, monitor persoonlike leerprosesse te neem, relevante leerstrategieë en hulpbronne toe te pas om alle uitkomste van hierdie kursus suksesvol te bereik.

Datum(s)

Die kursus sal oor ses weke strek vanaf 9 Mei tot 13 Junie 2026.

KURSUSAANBIEDERS

Mev Monique Alberts

Monique Alberts is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BEd-graad in Verdere Onderwys en Opleiding asook ʼn honneursgraad in Engels Letterkunde en in Opvoedkunde met ʼn fokus op leerderondersteuning (cum laude) aan die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Suid-Afrika onderskeidelik verwerf. Sy het haar meestersgraad in Opvoedkunde verwerf aan die Universiteit van Pretoria in 2024. Alberts se navorsingsfokus is Engels as taal van onderrig en leer. Sy het agt jaar as onderwyser gepraktiseer. Sy doseer tans die volgende modules aan Akademia:

  • Engels (Taal en Linguistiek)
  • Engels (Letterkunde)
  • Engels Eerste Addisionele Taal-onderwys vir die Senior Fase

Dr. Chris-Mari Le Hanie

Chris-Mari Le Hanie is ʼn senior dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn PhD in Opvoedkunde met Kurrikulumstudies asook ʼn honneurs- en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Le Hanie se navorsingsfokus is kurrikulumstudies, assessering, navorsing en besigheidsonderwys. In haar loopbaan het sy verskeie posisies beklee: kurrikulumkoördineerder, kurrikulumontwikkelaar, hoof van institusionele kwaliteit en akademiese steun, onderwyser en dosent. Sy is die skrywer van ʼn aantal joernaalartikels, boekhoofstukke en boeke in die velde van opvoedkunde, navorsing en kurrikulumstudies. Sy doseer tans die volgende modules:

  • Akademiese Vaardighede
  • Opvoedkunde: Kurrikulumstudies
  • Onderrig en Leer in Opvoedkunde-konteks
  • Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-onderwys vir die Senior Fase

Mnr DJ Cloete

DJ Cloete is ʼn dosent in Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia en onderrig tans die modules GAFNE150: Afrikaans en Nederlands I en GLING150: Linguistiek I. Hy het ʼn BA-graad in Tale asook ʼn honneurs- en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Cloete het ook sy NGOS-kwalifikasie by Akademia verwerf. Hy het ʼn wye belangstelling in die werkinge van taal en het al meegewerk aan internasionale projekte wat insluit Skryfhulp Afrikaans. Voor die aanvang van sy posisie was hy ʼn lektor in taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en ook nou betrokke by projekte wat deur ICELDA en SADiLaR geloods is. Hierdie projekte se doel is om hulpmiddels daar te stel wat studente kan ondersteun tydens hulle akademiese loopbaan en om meertaligheid binne die hoëronderwyskonteks te bevorder. Hy was ook projekbestuurder van ʼn nuwe boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans, getitel Toegepaste Taalkunde in Afrikaans (2022). Cloete se navorsingbelangstellings is variasietaalkunde en rekenaargesteunde taalonderrig.

KURSUSLEIER

Dr. Chris-Mari le Hanie | Chris-MariL@akademia.ac.za

Me. Monique Alberts | moniquea@akademia.ac.za

Voeg in die opskriflyn van u e-posnavraag | Navraag: Integrasie van digitale media en KI in die klaskamer