Is jy tans ʼn besigheidsbestuurder, óf droom jy daarvan om dié rol in die toekoms te vervul? Indien wel, is die Akademia et al.-kortkursus, Basiese rekeningkundige en MS Excel-vaardighede vir die besigheidsbestuurder, pasgemaak vir jou.
Die doel van dié kursus is om individue toe te rus met noodsaaklike rekeningkundige vaardighede sowel as praktiese MS Excel-kennis ten einde effektiewe besluitneming te bevorder én finansiële ontledingsvermoë te ontsluit. Die kursus word by wyse van selfgerigte aanlyn leer aangebied, en kan daarom enige tyd – soos wat jou skedule dit toelaat – gedoen word.
Die volgende kursusinhoud sal aandag geniet:
- Rekeningkundige vergelyking
- Algemene vereistes vir die aanbieding van finansiële state
- Die doel van die balansstaat, inkomstestaat en kontantvloeistaat
- Funksies en tegnieke in MS Excel vir data-ontleding en besluitneming
- Die visuele voorstelling van data by wyse van basiese grafieke
Microsoft 365-programmatuur sal gebruik word vir demonstrasies. Hierdie program is gratis aanlyn beskikbaar indien die kursusganger nie die werkskerm weergawe van MS Excel het nie. Die uitleg en funksionaliteit mag anders wees, afhangende van watter weergawe van die MS Excel-program jy gebruik, maar die basiese toepassings sal dieselfde wees.
Omdat die kursus aanlyn plaasvind en uit opnames, oefeninge en interaktiewe inhoud saamgestel is, kan die kursusganger dit op ʼn selfregulerende pas voltooi. Volgens Shaun Coetzee, die kursusaanbieder, sal die inhoud ʼn individu tipies twee tot vier weke neem om te voltooi. Die kursus sal vir ses maande vanaf registrasie vir deelnemende kursusgangers oopgestel wees.
“Dié kursus sal deelnemers op ʼn praktiese ontdekkingsreis neem waartydens hulle toegerus sal word met noodsaaklike en praktiese vaardighede om die komplekse en dinamiese besigheidswêreld met selfvertroue te kan navigeer,” sê Coetzee. Hy voeg by dat ʼn goeie begrip van finansiële beginsels van kardinale belang is vir enigeen wat hom-/haarself in die besigheidsektor wil onderskei.
Meer oor die kursusaanbieder
Coetzee is ʼn dosent verbonde aan die departement Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia. Hy het ʼn BCom (Rekenmeesterskap)-graad en ʼn honneursgraad in Bestuursrekenmeesterskap, beide met lof, aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf. Coetzee beskik ook oor ʼn meestersgraad in Besigheidsadministrasie (MBA) van die Universiteit van Derby asook ʼn meestersgraad in Strategiese Besigheidsbestuur van die Manchester Metropolitan Universiteit.
Wat akademiese toekennings betref, het Coetzee akademiese erekleure verwerf, is hy as beste honneursstudent aangewys én geniet hy lidmaatskap van die Golden Key Internasionale Eregemeenskap. Hy is ʼn geregistreerde geoktrooieerde bestuursrekenmeester (ACMA, CGMA) by CIMA en was vir agtien jaar werksaam in onder meer die mynbou-, verbruikersgoedere-, herwinning- en vervaardigingsektore in Suid-Afrika, Australië en die Verenigde Koninkryk.
Die koste van die kursus beloop R2 000. Besigtig die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor dié waardetoevoegende kortkursus.