Akademia et al. bied aan: Internasionale reikwydte en politieke impakbestuur

Die wêreld beleef die afgelope jare politieke, ekonomiese en kulturele kragmetings, plofpunte en grondverskuiwings. Groot Westerse bedrywe gebruik en ontwikkel hul vermoëns tot politieke impakbestuur, om die nuwe risiko’s en kanse wat ontstaan beter te beoordeel en wêreldwyd daarop in te speel. Die opwindende nuwe Akademia et al.-kortkursus: Internasionale reikwydte en politieke impakbestuur, bied aan deelnemers akademies gegronde raamwerke én praktiese insigte oor hoe rolspelers in Suid-Afrika hul eiesoortige dinamiese vermoëns en hul internasionale reikwydte kan opbou of verbeter.

Dié kursus begin op 19 Augustus 2024 en sal oor ʼn tydperk van drie weke strek tot en met 9 September. Die formaat sal uit ses sessies bestaan – twee aanlyn en vier kontaksessies. Elke sessie sal 90 minute duur. Die kontaksessies sal by Akademia se Leriba-kampus (Endstraat 245) in Centurion plaasvind.

Hierdie kursus is ideaal vir deelnemers wat internasionale politieke en ekonomiese magsverskuiwings se betekenis vir nie-staatsrolspelers in Suid-Afrika beter wil verstaan. Die kursus sal hulle toerus met nuwe navorsingsbevindinge en praktiese insigte om hul dinamiese vermoëns in politieke impakbestuur asook hul internasionale reikwydte uit te bou.

Die kursusinhoud sal die volgende areas dek:

  • Belangrike politieke, ekonomiese en kulturele kragmetings, plofpunte en nuwe internasionale kanse
  • Nie-staatrolspelers in Suid-Afrika se uitdagings en keuses by politieke impakbestuur
  • Ontleding en besluitneming in komplekse en onseker omgewings
  • Hoe Westerse bedrywe politieke impakbestuur prakties beoefen
  • Die ontwikkeling van selfstandige dinamiese vermoëns én internasionale reikwydte

Meer oor die kursusaanbieder

Dr. Heinrich Matthee is die ereleerstoelbekleër in veiligheidstudies by Akademia, ʼn direkteur van die JISR-navorsingsprogram vir bedrywe in die Midde-Ooste, en ʼn nie-residensiële navorser van die Emirate Beleidsentrum in die Verenigde Arabiese Emirate. Hy geniet meer as 27 jaar se ervaring as ʼn strategiese ontleder en adviseur vir organisasies in die Midde-Ooste en Afrika, en is die skrywer van etlike publikasies oor geopolitiek, geo-ekonomie, identiteitspolitiek en konflikstudies in die Midde-Ooste, Afrika en Europa. Matthee het ʼn BA (LLB)-kwalifikasie, twee nagraadse kwalifikasies in Strategiese Studies en Internasionale Verhoudings, en ʼn DPhil in Politieke Wetenskappe (magna cum laude) van Marburg-Universiteit in Duitsland verwerf.

Die koste van hierdie kursus beloop R7 500 wat alle sessies insluit. Besoek die Akademia et al.-webblad vir meer inligting oor hierdie kortkursus. Registrasies vir hierdie kursus sluit op 12 Augustus.